Gebruikte mense, ons moet bly hoop

Elke keer as ek begin met nog ‘n post besef ek net weereens hoeveel hierdie vir myself help. Vir die eenvoudige rede dit bring baie keer die goed wat in en om my gebeur terug in perspektief. Ek is geneig om eers lank na iets gebeur het my emosies om ‘n situasie te kan werp en dan van daar af my kop skoon te kry. Ek besef gewoonlik te laat hoeveel goed en sleg ‘n situasie was. Dan leer ek my les, meestal, beweeg aan en probeer beter te wees, besluite te maak en meer verseker te leef in wie ek is.

Maar hoe gemaak as jy besef dat jy om die bos gelei is? Hoe gemaak as die teendeel gebeur, dat jy iets vir iemand beteken het sonder dat jy dit eens besef? Dit bring tweestryd in my gemoed wanneer die goed op dieselfde tyd gebeur.

Aan die negatiewe kant werk mens eers deur die teleurstelling, die verwagtinge wat geskep en geskeur is. Dalk was dit verwagtinge wat jy vir jouself geskep het. Iemand het jou dalk eksplisiet sekere goed belowe en nooit dit gedoen nie. Omstandighede het dalk verander wat jou gebruik laat voel, hetsy deur mense of deur die breë wereld. Dit mak seer. Dit los my minder lus om weer my hand uit te reik na mense om hulle te help. Dit maak dat ek met redelike afsku begin kyk na sekere mense. Ek begin myself te blameer en oor die vingers te tik vir myself so oop maak vir pakslae. Maar wat gedoen is, is gedoen. Wat gebruik is, is weg.

Ek probeer dan myself af te skud, reg te ruk en to fokus op die goeie goed. Waarvan daar meer is as wat ons besef. Daar is mense wat werklik waardeer wat mens doen vir hulle. Partykeer is selfs die geringste iets meer werd vir iemand as wat ons besef. Ek is die laaste tyd vreeslik getref oor hoe gesprekke van jare terug mense gehelp het om te kom waar hulle is vandag. Net so, moet ek ook eer gee aan mense wat oor die jare heen vir my gehelp het om te kom waar ek vandag is.

Ek is die laaste tyd getref deur soveel hartseer wat gebeur in ons wereld. Die naweek is daar familie wat getref is deur ‘n ouer paar wat in motor ongeluk oorlede is. Die seun is in my alma-mater en dit bring terug my tyd op skool toe my aanneem-pa oorlede is. Die idee van alby ouers wat net ewe skielik weg is, is tragedies. Dit bring herrinneringe terug van destyds. Mentors wat in daardie swaar tye in my lewe getree het, gehelp het en raad gegee het. Boeke geleen het wat ek kon lees om net vir ‘n tydjie te kon ontvlug. Sport afrigters wat my gedruk het om myself te verbeter. Tyd opge-offer het en ingebou het in my. Voel hierdie mense gebruik vandag? Of sit hulle met ‘n glimlag en dink aan hoe hulle kon help? Dalk dink hulle glad nie eens aan so lank terug nie.

Sien, hier is wat my hoop gee. God het nog niemand oor my pad gestuur wat nie op my pad moes kom nie. Ja, party mense het aansienlik meer geneem as gegee, meer verwoes as wat hulle gebou het. Hy het, en bly elke dag, vir my sorg. Dalk was daar waar ek voel ek gebruik was binne Sy plan sodat ek kon gee wat iemand nodig gehad het. As ek sê God is die een wat voorsien kan ek tog nie kwaad wees oor dit wat ek gee nie. Want dit kom nie van my af nie. Dit voel dalk nie altyd op die oomblik so as jy terugkyk nie. Hetsy dit verhoudings was of geld, tyd of wat jy ookal gegee het. Die punt is, dit was nie joune nie. Dit wat jy het is tydelik. Bewaar dit soos die goeie dienskneg, maar as die Meester sê gee, moet nie jou hand toemaak nie.

Die laaste tyd is daar regtig so baie hartseer om ons, verhoudinge wat verbreek word, dood, siektes en ekonomiese druk op soveel huise. Dit voel dalk asof dit wat jy gister gedoen het jou vandag kom byt. Dit mag dalk werklik so wees. Vergewe, sodat jy kan vry wees. Vergeet, sodat jy nie verbitterd word nie. Lewe met die geluk wat op jou pad kom en kyk op. Hy sal jou nie faal nie.

Advertisements

My maat, dis hoe jy vergewe

So wat is dit met mense wat sukkel om te vergewe. Is dit ‘n knoppie in ons kop wat maak dat ons so fokus op hoe ons tena gekom is dat ons net nie kan enige iets anders sien nie? Is dit net deel van menswees om ander altyd te verkwalik? Hel ek hoop nie so nie. Want as dit net maar nog iets is wat deel is van menswees beteken dit ek en jy het eintlik geen beheer oor onsself nie. Dat ons keuses nie saak maak nie. Dit kan nie waar wees nie.

Julle sal al agterkom ek is groot op keuses. Keuse liefde. Keuses oor die algemeen. Sien ek glo dat ongeag hoe jy voel of wat jy dink kan jy die keuse maak om op sekere manier te reageer. Hier praat ek nie van die instinktiewe keuse van jou hand van die warm plaat afhaal nie (alhoewel jy kan jouself leer om dit nie te doen nie) maar die nugtere besluit om sekere aksies te kies. Die van julle wat ouers is sal hierdie veral verstaan, dit is daardie middae wat jy dood moeg is en niemand mee wil praat nie en jou kind wil net so graag vir jou van hulle dag vertel. Vir die volgende 40 minute. Met niks wat sin maak in die hele gesprek nie. Tog maak jy die keuse om vir jou kind jou aandag te gee. Want jou kind is belangriker as hoe jy voel. Klink maklik ne?

Wat de hoenders het dit met vergifnis uit te waai? Vergifnis is a keuse. Ja, die eerste keer wat jy vergewe mag dit jou gewete wees wat jou aanhits om te vergewe. Daardie stemmetjie wat sê jy moet iemand vergewe as hulle jou seergemaak het per ongeluk. Want dit was per ongeluk. So dis eintlik ok. Dit maak nie jou seer minder nie, maar ons regverdiging van dit was nie bedoel nie maak dit makliker. Party mense sukkel met selfs hierdie. Meer oor onvergewinsgesindheid later.

Hoe vergewe jy dit wat op jou gemik was, of wat voel asof dit op jou gemik was? Want daardie is diep seer. Dit is nie maklik nie, jou gewete is gewoonlik hier die stem wat sê “klap terug, dubbel so hard”. Jy kan dit doen. Niemand gaan jou blameer nie want jy is mos geregverdig uit jou seer. Bullshit! Ja, julle het reg gelees. Daar is geen regverdiging in hierdie wereld om iemand doelbewus seer te maak nie. Ek praat hier van binne persoonlike verhoudings met mense, hetsy vriende, familie, kollegas of wie-ookal. Mense doelbewus seer te maak op persoonlike vlak pluk jy vir jouself groot lat. Hoekom sê ek so?

Seën. Dis hoekom jy moet vergewe. Dis hoekom elke keer as die seer opkom of die vyand jou wil oortuig jy is “geregverdig” om terug te kap jy die keuse moet maak om anders op te tree as hoe jy voel. Anders verloor jy jou seën.

Die seën waarvan ek hier praat is die daaglikse ingryping in ons gemoed deur God. Gewonder hoekom alles verkeerd loop as jy aan die verkeerde kant van die bed opgestaan het? Vir my moes ek leer om op sulke dae net oomblik te vat waar ek kan vrede kry weer in myself. Anders is jy oop vir aanslagte die hele dag. God se vrede bewaar ons gemoedere selfs in die dae wanneer ons emosies helemal mal gaan. Verstaan my mooi, ek het al baie daardie vrede so ver verloor ek kon dit eers week later weer kry. Was seker die meeste chaos wat ek in een week kon hê.

Hierdie seën laat ons die daaglikse goeie om ons raaksien. Wanneer laas het jy terwyl jy erens staan of stap net vir die voëltjies gekyk wat rond hop op soek na kos? Of na die veld wat deur die wind gestreel word? Hierdie goed en honderde ander is so eenvoudig maar dit laat ons die Vader se hand om ons sien.

Wat maak onvergewinsgesindheid aan ons? Twee eenvoudige goed tog is die skade daarvan ontelbaar.

  1. Dit vat ons vrede. Die gevaar lê daarin dat mens raak so paranoïes vir weer seerkry dat ons sukkel om vrede in alle aspekte van ons lewens te ervaar. Dit kan so erg raak dat ons ‘n form van PTSD ontwikkel. Dit tas naderhand jou gesondheid en (erger) jou gesindheid teenoor alles en almal aan.
  2. Dit steel God se seën oor jou lewe. Vergewe mekaar sodat God julle sal vergewe. Ek glo mense sal van my verskil maar wanneer ons elke keer vergewe glo ek vas dat God ons seën daarvoor. Want dan stap ek perfek in tyd met God se hartklop, wat verhoudings met mense is.

So hoe maak ek met die seer? Ek kies om my emosie uit my aksies uit te haal. Ek kies om lief te hê al is ek seergemaak.

Laaste belangrike punt, net omdat jy vergewe het beteken nie jy moet dieselle foute toelaat in jou lewe as jy dit kan voorkom nie. Ek het gesê wees lief vir mekaar, nie onnosel nie. Partykeer moet jy wegstap uit verhoudings, situasies, plekke juis omdat dit is waar jy seer kry. Dis ok om weg te stap. Vergewe en beweeg aan. Moenie dat die seer soos ‘n anker jou terug rem omdat jy nie die ketting kan breek en vergewe nie.