Gebruikte mense, ons moet bly hoop

Elke keer as ek begin met nog ‘n post besef ek net weereens hoeveel hierdie vir myself help. Vir die eenvoudige rede dit bring baie keer die goed wat in en om my gebeur terug in perspektief. Ek is geneig om eers lank na iets gebeur het my emosies om ‘n situasie te kan werp en dan van daar af my kop skoon te kry. Ek besef gewoonlik te laat hoeveel goed en sleg ‘n situasie was. Dan leer ek my les, meestal, beweeg aan en probeer beter te wees, besluite te maak en meer verseker te leef in wie ek is.

Maar hoe gemaak as jy besef dat jy om die bos gelei is? Hoe gemaak as die teendeel gebeur, dat jy iets vir iemand beteken het sonder dat jy dit eens besef? Dit bring tweestryd in my gemoed wanneer die goed op dieselfde tyd gebeur.

Aan die negatiewe kant werk mens eers deur die teleurstelling, die verwagtinge wat geskep en geskeur is. Dalk was dit verwagtinge wat jy vir jouself geskep het. Iemand het jou dalk eksplisiet sekere goed belowe en nooit dit gedoen nie. Omstandighede het dalk verander wat jou gebruik laat voel, hetsy deur mense of deur die breë wereld. Dit mak seer. Dit los my minder lus om weer my hand uit te reik na mense om hulle te help. Dit maak dat ek met redelike afsku begin kyk na sekere mense. Ek begin myself te blameer en oor die vingers te tik vir myself so oop maak vir pakslae. Maar wat gedoen is, is gedoen. Wat gebruik is, is weg.

Ek probeer dan myself af te skud, reg te ruk en to fokus op die goeie goed. Waarvan daar meer is as wat ons besef. Daar is mense wat werklik waardeer wat mens doen vir hulle. Partykeer is selfs die geringste iets meer werd vir iemand as wat ons besef. Ek is die laaste tyd vreeslik getref oor hoe gesprekke van jare terug mense gehelp het om te kom waar hulle is vandag. Net so, moet ek ook eer gee aan mense wat oor die jare heen vir my gehelp het om te kom waar ek vandag is.

Ek is die laaste tyd getref deur soveel hartseer wat gebeur in ons wereld. Die naweek is daar familie wat getref is deur ‘n ouer paar wat in motor ongeluk oorlede is. Die seun is in my alma-mater en dit bring terug my tyd op skool toe my aanneem-pa oorlede is. Die idee van alby ouers wat net ewe skielik weg is, is tragedies. Dit bring herrinneringe terug van destyds. Mentors wat in daardie swaar tye in my lewe getree het, gehelp het en raad gegee het. Boeke geleen het wat ek kon lees om net vir ‘n tydjie te kon ontvlug. Sport afrigters wat my gedruk het om myself te verbeter. Tyd opge-offer het en ingebou het in my. Voel hierdie mense gebruik vandag? Of sit hulle met ‘n glimlag en dink aan hoe hulle kon help? Dalk dink hulle glad nie eens aan so lank terug nie.

Sien, hier is wat my hoop gee. God het nog niemand oor my pad gestuur wat nie op my pad moes kom nie. Ja, party mense het aansienlik meer geneem as gegee, meer verwoes as wat hulle gebou het. Hy het, en bly elke dag, vir my sorg. Dalk was daar waar ek voel ek gebruik was binne Sy plan sodat ek kon gee wat iemand nodig gehad het. As ek sê God is die een wat voorsien kan ek tog nie kwaad wees oor dit wat ek gee nie. Want dit kom nie van my af nie. Dit voel dalk nie altyd op die oomblik so as jy terugkyk nie. Hetsy dit verhoudings was of geld, tyd of wat jy ookal gegee het. Die punt is, dit was nie joune nie. Dit wat jy het is tydelik. Bewaar dit soos die goeie dienskneg, maar as die Meester sê gee, moet nie jou hand toemaak nie.

Die laaste tyd is daar regtig so baie hartseer om ons, verhoudinge wat verbreek word, dood, siektes en ekonomiese druk op soveel huise. Dit voel dalk asof dit wat jy gister gedoen het jou vandag kom byt. Dit mag dalk werklik so wees. Vergewe, sodat jy kan vry wees. Vergeet, sodat jy nie verbitterd word nie. Lewe met die geluk wat op jou pad kom en kyk op. Hy sal jou nie faal nie.

Advertisements

Partykeer is dinge net maklik

Hierdie laaste tyd wag ek vir die volgende krisis, rugstekery, probleem of een of ander nood om my te oorval. Meerendeels want dit is hoe hierdie jaar met tye al gevoel het. Ek dink nie eens iemand sal my kwalik neem met dit nie. In dieselfde asem moet ek ook bieg en sê ek sit baie terug en wag vir die volgende wonderwerk, ware vriend, goeie vriendin, hernuwing en vreugde om my te oorweldig. Want dit het ook hierdie jaar met my gebeur.

Ek sit en gesels met ‘n kollega die ander dag en sy vertel my hoe haar liefdeslewe gaan. Ek moet bieg dit het met tye geklink soos persoonlike ervarings, net vir iemand anders om in te klim in ons gesprek met soortgelyke ervarings. Naderhand was ek net ‘n toeskouer in die gesprek. Wat my getref het is hoe soortgelyk hulle ervarings was. Dit bring my tot die besef dat as dit wat jou moet vrede en vreugde bring dit nie doen nie, is dit nie bedoel vir jou nie. #praatuitervaring #partymenseisnetslegvirjou

Ek gesels met vriende wat deur rowwe tyd gaan met werk en dit breek my. Nie omdat hulle deur moeilike tye gaan nie maar omdat ek niks vir hulle kan doen nie. Dan besef ek net weer dat elkeen van ons deur tye van krisis gaan. Dit is niks lekker nie, dit bring partykeer onvergelykbare pyn. Maar daar is ook redes vir dit. Al is die rede om ons sterker te maak is dit goed genoeg.

Ek is onlangs baie bevoorreg om iemand in my lewe te hê wat my help om jare se trauma en slegte emosionele gewoontes van ontslae te raak. Maklik. Hoe God my help om deur hierdie persoon se aanvaarding myself oop te maak en genees te word van gewoontes wat ek van klein kind tyd af gehad het. Sien, ek het geleer om emosioneel “af” te skakel. Die wat die woord “Psigopaat” in neon sien kan ontspan. Nie dieselle onderwerp nie. Ek het geleer dat die ware merk van jou krag oftewel sterkte as mens lê nie in hoe hard jy is of hoe hoog die mure om jou hart is nie. Die werklike mate om jou krag te meet is hoe bereidwillig is jy om seer te kry? Het jy die bravado om jouself oop te stel vir seerkry? Sal jy die kans waag op mense?

Vandag voel ek meer vrede as wat ek al ooit kon dink. Ek ken nogsteeds mense wat vir my seer veroorsaak, al is dit net die gevoel van ‘n kopspeld se prik. Maar ek het ook geleer om die werklike goeie mense in my lewe net meer en dieper lief te hê. Om die wat werklik opreg is te vertrou. Om oop te wees en nie vir een oomblik enige spanning weens my verhoudings met mense te ervaar nie. Want al kry ek seer, leef ek daagliks in meer vreugde as wat die pyn kan veroorsaak. Pyn genees, stadig, met wroeging en somtyds met wyn. Maar dit genees. Lisma het my as man gewys hoe God wil hê ek moet wees, sodat ons kinders sal grootword soos God dit bedoel het. Ek mis haar elke dag. Maar elke keer as dinge vir my swaar raak is daar iets wat gebeur wat my wys God het deur haar met my en ons kinders gewerk. Dan word dit makliker. Hierdie is ‘n nimmereindigende proses van genesing, van self groei, van dieper in God se hart in te beweeg, van ‘n verskil maak in mense se lewens. Want ek het ‘n vrou gehad wat die pad vir my gewys het.

Is jou maat volmaak?

Ek tik hierdie na baie tyd wat ek spandeer het aan dink. Dink oor hoe verhoudings, lesse wat mens partykeer leer, oogklappe ens ens.

Ek besef dat meeste van die kere leef mense met geen werklike aanvoeling vir realiteit nie. Minstens nie oor wat in verhouding gebeur nie, want ons het persepsies van hoe verhoudings is, in plaas van om met die ander persoon in werklike realiteit te leef van wie en wat hulle is sal ons eerder deur die bril van persepsies na mekaar kyk. Ek besef dat ons persepsies partykeer daar is omdat ons drome het oor verhoudings, omdat verliefdheid alles laat goed voel in plaas van ons enkele eienskappe vir ons uit te lig. Dit help dat ons makliker oor daardie eerste ongemaklike skaamheid kan kom, die braafheid het om ons self oop te maak vir seerkry soos ons mekaar leer ken. Niks van hierdie is verkeerd nie. Verliefdheid is ongelooflik lekker. Daardie skoenlappers is beter as jou ma se lekkerste dis.

Maar wat gemaak as die ideaal, die droom of die persepsie nie verdwyn nie? Wat maak jy as jou oë oopgaan en jy besef daar is geen konkrete rede hoekom jy van iemand hou nie? Dat alles net ‘n verliefdheid illusie was? Hoe nou?

Ek dink dis is moeiliker om na die tyd te verander en met mekaar op dieper, werklike punte te kan verbind as wat dit sou wees om net oop oë in te stap van dag een af. Daar is wel ‘n ongelooflike lekkerte as jy met jou weder helfte wel kan in aanraking kom op nuwe gebied, waar alby van julle oop is vir seer en mekaar soos julle is kan ervaar en aanvaar. Dit lekkerte is dit bring die verliefdheid net weer terug, daardie skoenlappers speel lekker in jou maag. Ek dink ou getroudes vind hierdie as een van die lekkerste goed omdat jy weer met die een wat jy gekies het en voor lief is kan nuwe areas van hulle menswees ontgin en geniet.

Maar wat maak jy as dit nie gebeur nie? Dit kan met vriende gebeur, selfs in jou daaglikse bestaan met enige iemand. Jou persepsies kan jou laat struikel. Jou persepsies kan maak dat jy meer energie insit waar dit nie wardeer word nie. Jy kry seer, nie net omdat jou hart oop is nie maar omdat die droom verbreek word soos glas wat die grond tref. Mense is maar mense, en as dit gebeur sal julle alby sukkel om weer met dieselle oë na mekaar te kyk. Dit mag dalk moontlik wees.

Ek hou van oop oë in goed ingaan. Ek sit gewoonlik my hart op die lyn te maklik. Ek sê wat ek wil hê, hoe ek gaan optree en ek verwag mense se woorde moet dieselle erns hê. Baie mense is soos ek myself beskryf het. Maar baie meer dink hulle is so, maar hulle emosionele mens, verstand mens en agtergrond wys dat dit nie altyd so uitwerk nie. Dit is hoe mense is, as so iemand jou seergemaak het, jammer.

Nou hoe is jou maat dan perfek? Omdat julle in verliefdheid lewe? Omdat julle oop oê en brutaal eerlik is? Ek weet nie, dis nie my punt nie. Ek sal graag wil hê dat julle opnuut na mekaar kyk, nuwe maniere kry om dieper te beweeg in julle verhouding. Geen mens is perfek nie. Dit is ok. Dit is normaal. Jou maat moet ook nie iemand wees wat jou energie tap nie. Ek dink ons skaaf baie aan mekaar in verhoudings, dis net belangrik dat ons mooi kyk voor ons skaaf. Ek sal nie iemand doelbewus wil van hulle blink gedeeltes wil ontneem nie. Kry die balans in wie julle is in julle verhouding, as mens eerlik op onder die illusie van verliefdheid. Alby is ewe goed, solank jy as mens net kan terugsit en weet waar jy op die spektrum is.

Ek is bevoorreg om baie eerlike mense in my lewe te hê. Ek kan op my hartsmense staat maak om inspraak te gee. Ek het mense in my lewe wat my opbou. Ek lewe met tye in die illusie en partykeer in die brutale eerlikheid van die lewe. Dit is die lewe. Vind jou pad, dink oor wie jy is, hoe en hoekom jy reageer op goed. Jy is ‘n volkome maat as jy jouself volkome ken en dit wie jy is met jou maat kan deel.

Is ek Fake?

Iemand vra my vandag hoe kan ek hierdie blog skryf wat vir hulle lyk asof ek ok is, en dan as ons gesels vertel van my seer. Vertel van die daaglikse goed wat gebeur wat mens breek maar tog hierdie goed skryf wat dit laat blyk ek is ok. Toe wonder ek of “Fake” is. Nie dat iemand dit van my gesê het nie, maar ek glo in myself die vraag vra.

So hierdie post is kort. Want die gedagte van Fake wees het my omgekrap. Ek besef dat mense my sien, my posts lees en dat dit die persepsie skep dat ek reg is. Want sien, ek is. Ek is ok. Maar mense is nie altyd dieselle nie. Daar gebeur goed wat jou op jou sterkste tye wil laat inmekaarsak. Dit is maar net hoe die lewe is. My pragtige kinders het vandag vorentoe geleun in die kar en opgekyk en vir die hemel, gewaai dat hulle ma moet kyk na die kar wat ons ry. Hoe hanteer mens hierdie enigsins anders as met trane?

Die punt is, ek dink ons as mense is gemaak soos kraakbene, altyd sterk, altyd breekbaar, vinnig om te herstel maar altyd gevoelig vir die goed wat ons van die kant af helemal van stryk af kan bring.

Ek is mens. Ek het seer. Ek genees. Ek breek weer. Ek lag. Ek vind vreugde. Ek huil. Ek bly op my knieë. Ek glo in waarhede wat my verstand te bowe gaan. Ek is mens.

Maak vrede met jou foute. Deel 2.

Om vinnig net almal weer op die selfde bladsy te bring, in deel 1 het ek gesels oor hart te wees op jouself oor jou eie foute wat jy raak sien. Hierdie post is oor wat maak jy as jy nie jou eie foute raaksien nie. Vir my is dit erger want jy kan net verander wat jy sien en self erken. Kom ons begin.

Wanneer jy jou eie foute so blatant mis gaan ek eerstens moet vra, het jy ware vriende? Sien, as jy onbewus is van jou foute kan jy nie intern gaan soek vir iets wat jy nie eens weet daar is nie. Maar vriende? Hulle behoort jou te kan help. Meeste van my lesse wat ek moes leer oor myself het gebeur weens my vriende kring op hoërskool wat tot vandag toe my beste maats is. My broers. Was dit altyd maklik? Nee, sien my vriende glo in reguit met mekaar wees. Ons haal mekaar as ‘n reel uit oor goed, al is dit net sê goed. So slyp ons mekaar. My vriende het my in die gewoonte gebring om selfondersoek te doen. Om myself te vra, hoekom is jy so, waarom laat hierdie situasie jou so reageer?

Wanneer jy hierdie tipe vrae begin vra en in die gewoonte kom om dit an te hou vra begin jy te besef dat jy het foute. Bagasie. Seer wat moet genees. Sagte plekke wat jy moet beskerm. Snellers wat getrek kan word en dan skiet jy sonder om te kyk, figuurlik natuurlik. Na ‘n tyd gaan jy agterkom maar daar is net nog goed om deur te werk. Ou goed kom terug. Frustrerend eintlik. Tot jy iets baie besonders besef. JY IS’N MENS!

Wat van familie en jou foute? Mens sal tog dink dat hulle as die mense naaste aan jou, jou die meeste sal op jou foute wys? Twak. Nee, rerig, waar in jou lewe sal jy jouself sulke nonsens laat glo. Familie sal jou op jou foute wys as dit vir hulle ook sigbaar is. Die goeie probleem is hierdie is mense wat al oor jare net so gewoond geraak het soos jy aan jou foute. Hulle mag dit moontlik net so min raaksien soos jyself. Met een uitsondering wat eintlik nie veel help nie in my opinie. Daardie tyd na skool en voor jy helemal op jou eie voete staan is seker die laaste tyd wat ouers het om jou raad en advies te gee as ouers. Daarna, hang dit af hoeveel hulle jou vriende ook word. Dan is inspraak makliker. Ek is geseend met uitstekende ouer mans in my lewe wat ek na luister as hulle vir my sê ek moet na iets kyk, al wys ek dit nie altyd nie. Het jy sulke mense in jou lewe? Ek praat nie van die persoon wat jou male voorstel nie. Ek praat van die persone met wie jy ‘n persoonlike band mee smee.

Werksvriende… Hierdie is seker baie snaaks vir sommige, maar skinderstories vertel jou meer van hoe mense jou sien as amper enige iets anders in die werksplek. So dis baie belangrik om jouself te wees. Sodat jy kan begin uitken wat van die goed wat van jou gesê word is jou manier van optree wat verdraai opgeneem word. Ek praat nie van die gemiddelde skinderstories nie, of selfs die eerste storie nie. Ek praat van dat jy boekhou van mense wat dalk noem jy lyk asof jy nie lus is nie, of te gretig is om te help (my voorbeelde suig met hierdie vanaand, verskoning) want dit gaan jou help om te ontwikkel. Dit gaan jou help om dieper na jouself te kyk. En dit, is juis die hele punt.

Begin vandag en dink oor jouself. Dink oor waar mense gesê het jy het hulle seer gemak. Situasies waar mense verbaasde uitdrukkings op hulle gesigte gehad het voor hulle omgedraai het. Dink oor stelling wat jy oor jouself maak outomaties. Is dit nog waar? Is dit nog jy? Wil jy hê dit moet nog jy wees?

Ek hou duim vas dat jou foute jou nie sal bind om jou lewe voluit te leef nie. Dat mense se aanvaarding van jou as mens jou nie sal laat huiwer in jou pad nie. Wees jouself. Verbeter jouself. Moet nooit jouself afknou nie. Die wereld gaan dit genoeg probeer doen. Vrede.

Maak vrede met jou foute. Deel 1

Ek dink daar is baie mense wat wonder in hulleself, wat dag in en dag uit hulleself roskam. Dit is mos maklik om vir jouself vies te raak oor jou eie foute. Of erger, blindelings deur die lewe te gaan sonder om jou eie foute raak te sien. In my hart dink ek dit is meer hartseer om blind te wees vir jou eie foute. Jy is blind, en ontneem jouself eintlik maar jou eie groei. Hart te wees op jouself is op sy eie manier sleg, want jy breek jou eie menswees af.

So wat is die foute wat ek van praat? Jou sproet op jou oor wat jy jou ma al van tiener tyd af smeek om te laat afsny? Jou gewig? Jou nuwejaarsvoorneme wat alweer net tot die derde Januarie gehou het? Niks van dit nie. Oftewel, nie iets so eenvoudig nie.

Kom ons begin oor die foute waarop ons so hart is op onsself. Hierdie is die foute wat jy weet jy het. As jy nie met oogklappe na jouself kyk nie het jy al die insig om baie van jou foute tekan sien om aan hulle te werk. Hierdie is foute soos lui wees, vinnig wees om kwaad te raak, te veel tegemoetkomend te wees ensovoorts. Dit is die foute waar net na jy dit gedoen het is jy gewoonlik vies vir jouself. Dan voel jy skuldig. Dan belowe jy jouself dit sal nooit weer gebeur nie. Dan voor jy jou oë uitvee het dit weer gebeur, sommer twee keer.

As jy kyk na die volgorde hierbo sal jy sien jy hanteer jouself as ‘n stoute hondjie. Jy raas met jouself, maak mooi jammersê ogies vir jouself en dan kou jy weer aan jou baas se gunsteling stoffels. Hoekom hanteer jy jouself as enige iets anders as ‘n volwassene? Of is jy gemaklik daarmee om jouself soos ‘n onskuldige kind te hanteer, een wat geen volwasse besluit kan maak nie? Hemel weet ek hoop nie dit is hoe ons na onsself kyk nie. Want dit sou beteken ons het geen beheer oor ons eie lewenspad nie, geen besluit wat ons neem kan enige verandering in ons lewens bring nie. Dit is hartseer.

Ek glo dat elkeen van ons het menigte foute. Ons is immers mense. Met dit saam het ek ook besef daar waar ons die grootste foute het is waar ons beste sterk punte kan vandaan kom. Ons moet net ons koppe op die regte plek kry. Wat is die regte plek?

Hier is my stellings vir hoe ons ons koppe moet begin instel om nie meer so hart op onsself te wees nie:

  1. Besef jou lewe is ‘n pad en nie ‘n bestemming nie.
    Dit beteken dat elke dag ‘n nuwe tree is. Jy is nie gebore perfek nie al het jou ma so gedink. Jy kan daagliks aan jouself werk en verbeter.
  2. Jou foute maak jou nie die satan nie.
    Ek hoor so gereeld mense wat dink hulle is ‘slegte’ mense oor hulle foute, hulle verlede of iets wat hulle aan iemand gedoen het. Dit is twak. Ja, jy het dalk iemand seer gemaak, dit was verkeerd. Kom oor dit al vergewe die ander persoon jou nie. Sê jammer en beweeg aan. Jy is mens. Jy gaan foute maak. Dit maak jou nie Hitler nie.
  3. Foute is in jou karakter sodat jy daaraan kan werk en verbeter.
    Jou geneigdheid om jou humeur te verloor, ongeduldig te wees of te lag as iemand seer gekry het is alles normaal. Is dit ok om dit net te aanvaar as dit is hoe jy is as jy vir jouself gesê het dit is ‘n fout van jou? Nee. Dit is hoekom mens aan jou foute werk.
  4. As jy nie dink dit is ‘n fout nie, dan is dit nie een vir jou nie.
    Met dit probeer ek te sê dat as jy ongeduldig is met mense wat nie tot die punt kan kom nie byvoorbeeld, en voel dit is goeie punt dat jy so is, is dit ok. Jy mag so dink. Of jy reg is of verkeerd is hang net van jou af en God. Jy fokus dalk eerder op ander iets wat jy doen wat jy vir jouself uitgewys het as fout.
  5. Mense se identifikasie van jou foute kan jy maar ignoreer.
    Die kennis wat vir jou sê jy is te kwaai met kollegas kan jy maar ignoreer. Want die persoon ken jou nie, ken nie die omstandighede nie en veroordeel jou dalk weens een insident in plaas van met jou ‘n pad te gestap het. AS hulle iets uitwys wat jy reeds aan werk is dit dalk groter probleem as wat jy besef het. Gebruik jou eie gesonde verstand.
  • JY is net mens. JY is waar jy is, op die plek waar jy is vir ‘n rede. JY is die moeite werd.
  • Moet nie dat daar in jou oor gefluister word en goed oor jou gespreek word wat jy nie hoef aan te trek nie. Moet ook nie van jouself verwag om perfek te wees nie, jy gaan jouself net elke keer teleurstel en ‘n bose siklus begin wat nooit sal eindig nie.
  • Ek gaan die post hier stop, en eerder die res in deel 2 mee aangaan. Vrede.