Die ideale rol van die man en vrou

Vandag se post is al vir ‘n week besig om deur my kop rond te bons. Laas naweek het Pastoor Retief gepreek oor die huwelik en die rol van die man en vrou. Ek gaan nie die hele preek probeer oortik nie, maar ek wil tog die belangrike punte uitlig.

Ek gaan begin by die vrou. Tong in die kies omdat vrouens altyd eerste kom uit my oogpunt. Die vrou se rol is tweeledig. Die eerste faset van vrou wees in die huwelik is die ‘kierie’. Nee, dit beteken nie die vrou moet al die werk doen en optree as slaaf in alles buiten naam nie. Want dit is nie die funksie van ‘n kierie nie. ‘N Kierie is ‘n noodsaaklike item vir iemand wat sukkel om te loop. Net so is die vrou noodsaaklik in die huwelik. Ons vrouens is daar om soos die noodsaaklike kierie ons te kan ondersteun. Hulle is ons huise se versorging. ‘N vrou maak dat ‘n huis ‘n plek van rus word vir elke een daarbinne, veral vir ons mans. As jou huis plek van vrede is vrouens, is die kans goed dat jou man graag in jou huis sal wil wees, met die kwalifiserende faktor as julle verhouding en huis prioriteit is.

Die tweede rol van die vrou is die een wat my die meeste opgewonde maak. Die vrou se rol as kryger van die huis in die geloof is vir my krities belangrik. Dit beteken di vrou bid vir haar man, vir hulle huis en kinders. Ons mans is partykeer (meestal) nie bewus van hoe ons vrouens in geloof opstaan en vir ons bid en ons met gebed dra nie. Saam met dit, is ons vrouens gewoonlik die eerste een wat die onverwagte goed hanteer op emosionele vlak van ons kinders af. Saam met dit is ons vrouens in beheer van hoe ons sensitiewe egos voel. Ja, mans se egos is vrek sensitief. Nie onderhandelbare punt nie. Wat wel baie belangrik is om te besef is dat ons vrouens die persone is wat ons egos die meeste kan opbou en afbreek. Hier is dit waar vrouens moet besef as kryger staan sy rug teen rug met haar man, beskerm hom van aanslae af. Bou sy ego op sodat hy as man kan funksioneer. Mans het hulle egos nodig. Weereens, nie onderhandelbare stelling nie.

Nou die man se rol. Ek weet sommer baie mans gaan dink, “Ons moet salaris verdien en en en…”. Ja, mans moet werk, ons is aangestel om te voorsien. Dit is so. Maar as ons dink vir een oomblik dat ons rol is om kos op die tafel te sit mis ons helemal die punt. Sien, God sog vir ons, Hy sê immers Hy sorg vir die voëls hoeveel te meer vir ons. Nee, vir my is ons mans se rol oor om geestelik en emosioneel kos huistoe te bring. Dit beteken jou kinders sien hoe jy as man nie deur jou emosies regeer word nie. Dat ons as mans ‘solid’ is. Iemand op wie daar gesteun kan word in die storms van die lewe.

Tweedens is dit ons mans se verantwoordelikheid om ons vrou en gesin te beskerm. Hier is die ‘kicker’ met hierdie een mans. Dit beteken jy moet jou vrou se reputasie by jou eie ouers beskerm. Dit is iets wat hard by my posgevat het toe Retief dit sê. Iets om aan te dink. Verder, moet jou vrou die plek van jou ma in jou lewe oorneem. Wat bedoel ek hiermee? Dit beteken dat as jy na jaar van getroud wees nogsteeds eerste jou man bel as daar iets groots in jou lewe gebeur het eerder as jou vrou, het jy ‘n probleem.

Hierdie is van die punte wat retief gemaak het met my eie interpretasie hier en daar. Dit was goed om met nuwe oë na die huwelik te kon kyk.

In jou elke dag se wandel, let bietjie op hoeveel mense praat van hulle huweliksmaats. Let op wat gesê word. Fokus dan op wat jy sê. Verbaal of net deur jou lyftaal. Rof ne?

Geniet hierdie sondag, as jy kerk toe gaan, sien jou daar. As jy nie gaan nie, dink oor jou lewe en hoe jy optree.

Advertisements

Partykeer is dinge net maklik

Hierdie laaste tyd wag ek vir die volgende krisis, rugstekery, probleem of een of ander nood om my te oorval. Meerendeels want dit is hoe hierdie jaar met tye al gevoel het. Ek dink nie eens iemand sal my kwalik neem met dit nie. In dieselfde asem moet ek ook bieg en sê ek sit baie terug en wag vir die volgende wonderwerk, ware vriend, goeie vriendin, hernuwing en vreugde om my te oorweldig. Want dit het ook hierdie jaar met my gebeur.

Ek sit en gesels met ‘n kollega die ander dag en sy vertel my hoe haar liefdeslewe gaan. Ek moet bieg dit het met tye geklink soos persoonlike ervarings, net vir iemand anders om in te klim in ons gesprek met soortgelyke ervarings. Naderhand was ek net ‘n toeskouer in die gesprek. Wat my getref het is hoe soortgelyk hulle ervarings was. Dit bring my tot die besef dat as dit wat jou moet vrede en vreugde bring dit nie doen nie, is dit nie bedoel vir jou nie. #praatuitervaring #partymenseisnetslegvirjou

Ek gesels met vriende wat deur rowwe tyd gaan met werk en dit breek my. Nie omdat hulle deur moeilike tye gaan nie maar omdat ek niks vir hulle kan doen nie. Dan besef ek net weer dat elkeen van ons deur tye van krisis gaan. Dit is niks lekker nie, dit bring partykeer onvergelykbare pyn. Maar daar is ook redes vir dit. Al is die rede om ons sterker te maak is dit goed genoeg.

Ek is onlangs baie bevoorreg om iemand in my lewe te hê wat my help om jare se trauma en slegte emosionele gewoontes van ontslae te raak. Maklik. Hoe God my help om deur hierdie persoon se aanvaarding myself oop te maak en genees te word van gewoontes wat ek van klein kind tyd af gehad het. Sien, ek het geleer om emosioneel “af” te skakel. Die wat die woord “Psigopaat” in neon sien kan ontspan. Nie dieselle onderwerp nie. Ek het geleer dat die ware merk van jou krag oftewel sterkte as mens lê nie in hoe hard jy is of hoe hoog die mure om jou hart is nie. Die werklike mate om jou krag te meet is hoe bereidwillig is jy om seer te kry? Het jy die bravado om jouself oop te stel vir seerkry? Sal jy die kans waag op mense?

Vandag voel ek meer vrede as wat ek al ooit kon dink. Ek ken nogsteeds mense wat vir my seer veroorsaak, al is dit net die gevoel van ‘n kopspeld se prik. Maar ek het ook geleer om die werklike goeie mense in my lewe net meer en dieper lief te hê. Om die wat werklik opreg is te vertrou. Om oop te wees en nie vir een oomblik enige spanning weens my verhoudings met mense te ervaar nie. Want al kry ek seer, leef ek daagliks in meer vreugde as wat die pyn kan veroorsaak. Pyn genees, stadig, met wroeging en somtyds met wyn. Maar dit genees. Lisma het my as man gewys hoe God wil hê ek moet wees, sodat ons kinders sal grootword soos God dit bedoel het. Ek mis haar elke dag. Maar elke keer as dinge vir my swaar raak is daar iets wat gebeur wat my wys God het deur haar met my en ons kinders gewerk. Dan word dit makliker. Hierdie is ‘n nimmereindigende proses van genesing, van self groei, van dieper in God se hart in te beweeg, van ‘n verskil maak in mense se lewens. Want ek het ‘n vrou gehad wat die pad vir my gewys het.

Is jou maat volmaak?

Ek tik hierdie na baie tyd wat ek spandeer het aan dink. Dink oor hoe verhoudings, lesse wat mens partykeer leer, oogklappe ens ens.

Ek besef dat meeste van die kere leef mense met geen werklike aanvoeling vir realiteit nie. Minstens nie oor wat in verhouding gebeur nie, want ons het persepsies van hoe verhoudings is, in plaas van om met die ander persoon in werklike realiteit te leef van wie en wat hulle is sal ons eerder deur die bril van persepsies na mekaar kyk. Ek besef dat ons persepsies partykeer daar is omdat ons drome het oor verhoudings, omdat verliefdheid alles laat goed voel in plaas van ons enkele eienskappe vir ons uit te lig. Dit help dat ons makliker oor daardie eerste ongemaklike skaamheid kan kom, die braafheid het om ons self oop te maak vir seerkry soos ons mekaar leer ken. Niks van hierdie is verkeerd nie. Verliefdheid is ongelooflik lekker. Daardie skoenlappers is beter as jou ma se lekkerste dis.

Maar wat gemaak as die ideaal, die droom of die persepsie nie verdwyn nie? Wat maak jy as jou oë oopgaan en jy besef daar is geen konkrete rede hoekom jy van iemand hou nie? Dat alles net ‘n verliefdheid illusie was? Hoe nou?

Ek dink dis is moeiliker om na die tyd te verander en met mekaar op dieper, werklike punte te kan verbind as wat dit sou wees om net oop oë in te stap van dag een af. Daar is wel ‘n ongelooflike lekkerte as jy met jou weder helfte wel kan in aanraking kom op nuwe gebied, waar alby van julle oop is vir seer en mekaar soos julle is kan ervaar en aanvaar. Dit lekkerte is dit bring die verliefdheid net weer terug, daardie skoenlappers speel lekker in jou maag. Ek dink ou getroudes vind hierdie as een van die lekkerste goed omdat jy weer met die een wat jy gekies het en voor lief is kan nuwe areas van hulle menswees ontgin en geniet.

Maar wat maak jy as dit nie gebeur nie? Dit kan met vriende gebeur, selfs in jou daaglikse bestaan met enige iemand. Jou persepsies kan jou laat struikel. Jou persepsies kan maak dat jy meer energie insit waar dit nie wardeer word nie. Jy kry seer, nie net omdat jou hart oop is nie maar omdat die droom verbreek word soos glas wat die grond tref. Mense is maar mense, en as dit gebeur sal julle alby sukkel om weer met dieselle oë na mekaar te kyk. Dit mag dalk moontlik wees.

Ek hou van oop oë in goed ingaan. Ek sit gewoonlik my hart op die lyn te maklik. Ek sê wat ek wil hê, hoe ek gaan optree en ek verwag mense se woorde moet dieselle erns hê. Baie mense is soos ek myself beskryf het. Maar baie meer dink hulle is so, maar hulle emosionele mens, verstand mens en agtergrond wys dat dit nie altyd so uitwerk nie. Dit is hoe mense is, as so iemand jou seergemaak het, jammer.

Nou hoe is jou maat dan perfek? Omdat julle in verliefdheid lewe? Omdat julle oop oê en brutaal eerlik is? Ek weet nie, dis nie my punt nie. Ek sal graag wil hê dat julle opnuut na mekaar kyk, nuwe maniere kry om dieper te beweeg in julle verhouding. Geen mens is perfek nie. Dit is ok. Dit is normaal. Jou maat moet ook nie iemand wees wat jou energie tap nie. Ek dink ons skaaf baie aan mekaar in verhoudings, dis net belangrik dat ons mooi kyk voor ons skaaf. Ek sal nie iemand doelbewus wil van hulle blink gedeeltes wil ontneem nie. Kry die balans in wie julle is in julle verhouding, as mens eerlik op onder die illusie van verliefdheid. Alby is ewe goed, solank jy as mens net kan terugsit en weet waar jy op die spektrum is.

Ek is bevoorreg om baie eerlike mense in my lewe te hê. Ek kan op my hartsmense staat maak om inspraak te gee. Ek het mense in my lewe wat my opbou. Ek lewe met tye in die illusie en partykeer in die brutale eerlikheid van die lewe. Dit is die lewe. Vind jou pad, dink oor wie jy is, hoe en hoekom jy reageer op goed. Jy is ‘n volkome maat as jy jouself volkome ken en dit wie jy is met jou maat kan deel.

Moet ons verskil van mekaar?

Hierdie post is geinspireer deur elke verhouding wat ek al gehad het asook elke huwelikskursus. Sien daar is mos die gesegde in engels van ‘opposites attract’. Hier is my siening.

Hierdie post is in geen vorm daar om jou huidige verhouding onder die vergrootglas te plaas nie. Dalk help dit jou, jouself en jou maat beter verstaan. Hoekom verhoudings werk of nie werk nie is helfte van die tyd nie eens duidelik vir die van ons wat in een sit nie, so hierdie is ook nie ‘n lys van aanpasbaarheid nie. Net dalk goeie riglyne om aan te dink. Sien daar is fasette van wie julle elkeen is wat ek glo belangrik is en sekeres wat glad nie saak maak nie. Kom ons kyk eers na wat saak maak, wat is die goed wat ek glo julle oor op moet saam stem en dieselfde of baie naby aan dieselfde moet wees.

  1. Geloof. Dit klink dalk vanselfsprekend maar dit is baie moontlik dat jou geloof of selfs kerkverband ‘n skeur in jou verhouding kan bring. Ek dink meeste mense in charismatiese kerke en die meer tradisionele susterskerke sal geskok wees oor die verskille as hulle mekaar sondae sou besoek. Dan wil ek nie eens dink hoe ‘n verhouding sou wees tussen ‘n christen en iemand van ‘n ander geloof nie. Saam met geloof is daar baie kulturele tradisies ook en julle moet alby oop oë na die verliefdheid verby is oor hierdie sit en gesels.
  2. Julle eie konsep van prioriteite in verhouding en eendag kinders. Dit klink dalk vreemd maar jou maat kan dink dat om in ‘n verhouding te wees beteken julle gaan saam uit met sy/haar vriende en die ander een gaan net saam. Jou maat mag dalk dink dit beteken meer tyd saam rustig alleen by die huis. Een of alby partye mag dalk dink kinders kry is belangrik terwyl jou maat voel saam reis is die eerste priorityd. Wil alby kinders hê? Hoe gaan disipline gehandhaaf word? Dis belangrik om hieroor te gesels want ons vat meestal hierdie tipe goed as vanselfsprekend en dan raak ons opgewerk teenoor mekaar sonder om te weet wat die onderliggende rede is.
  3. Jou persoonlike lewens ideale. In die verlede het baie mense getrou want dit was net die ding wat mens doen. Vra enige vrou wat 24 slaan, erens het iemand haar al gevra ‘nou wanneer trou jy?’. Die wat hulleself kan inhou het nie die vraer geslaan nie. High Five van my af! Jou ideaal mag wees om ‘n loopbaan eers te bou, jou eie besigheid te begin, kinders te hê op veertig, huismamma of pappa te wees. Wat dit ookal is maak nie soveel saak soos dat alby die ander een in hulle eie lewenspad ondersteun nie. Alternatiewelik gaan julle sit met frustrasies. Die tipe frustrasie wat maak dat jou verhouding soos ‘n hok begin voel. Wees ook volwasse genoeg om te besef hierdie kan verander ten enige tyd, alby moet net eerlik met mekaar wees en julle goue middeweg vind.
  4. Liefdestale en intimiteit. Hierdie is bitterlik sensitief, ons is gewoonlik nie eerlik 100% nie om ons maat te probeer paai en dan veroorsaak dit frustrasies. Wees eerlik oor jou liefdestaal en wat jou laat goed voel. Dis immers jou maat se lekkerste lekker as hy jou geliefd kan laat voel en vice verse. Klem op geliefd en nie gelukkig nie. Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk. As daar donkerte of seer in jou lewe is oor intimiteit is dit wanneer julle verhouding so ver is juis by jou maat wat jy dit kan by oopmaak. Ek glo God se genesing kom die meeste uit verhoudings. Want dit is in daardie intimiteit van voor hom sweer aan mekaar wat Hy tussen ons woon. Maar dalk is dit net met my wat dit so werk.
  5. Volwassenheid. Nou wat praat ek nou van? As jou maat een is wat kinderlik manipuleer terwyl jy volwasse is in terme van konflik het julle probleem. As een van die partye probleem het met stemme wat verhef word en die ander een kan nie dit beheer nie is daar ‘n probleem. Dit gaan nie hier net oor konflik nie maar ook oor kommunikasie. Kan julle mekaar verstaan as julle met mekaar praat, nie net die woorde nie maar ook die betekenis agter die woorde. Kan julle mekaar intellektueel stimuleer? Is dit lekker om net te gesels tot die son opkom? Of in stilte net saam te sit? Daar is redes hoekom mans meestal jonger vrouens trou, maar ook vir die teendeel. Ouderdom maak nie saak nie, volwassenheid doen.

Nou kom ons praat oor wat nie saak maak nie.

  1. Die res. Ja, ek bedoel dit regtig. Persoonlikheids tipes, liggaamsbou, oefen patrone en stokperdjies ensovoorts maak niks saak nie. Jou maat se stokperdjie is nie ‘n bedryging vir julle verhouding nie. (Verstaan ek praat van gesonde stokperdjies). As hy of sy die stokperdjie kinderlik najaag bo alles en nie ‘n volwassene (sien punt 5 hierbo) kan wees oor balans met dit nie, het julle ‘n probleem. Dit is ok om nie mekaar se klone te wees nie. As julle is en julle verhouding werk is dit net so fantasties soos ‘n verhouding waar julle hemelsbreed verskil maar julle verhouding is suksesvol.

Ek glo in ware, keuse liefde soos julle al gelees het in vorige posts. Dit beteken as die kern van julle verhouding reg is en julle saam stem oor die goed hierbo julle op ‘n plek sal kan bly waar om mekaar lief te hê maklik is. Omstandighede mag dalk druk op julle uitoefen maar die fondasie is sterk. Dit is wat saak maak. Hoop julle verhoudings is sterk, dat julle mekaar se verskille vier al is die enigste verskil tussen julle, julle haarkleur. Vrede.

My maat, dis hoe jy vergewe

So wat is dit met mense wat sukkel om te vergewe. Is dit ‘n knoppie in ons kop wat maak dat ons so fokus op hoe ons tena gekom is dat ons net nie kan enige iets anders sien nie? Is dit net deel van menswees om ander altyd te verkwalik? Hel ek hoop nie so nie. Want as dit net maar nog iets is wat deel is van menswees beteken dit ek en jy het eintlik geen beheer oor onsself nie. Dat ons keuses nie saak maak nie. Dit kan nie waar wees nie.

Julle sal al agterkom ek is groot op keuses. Keuse liefde. Keuses oor die algemeen. Sien ek glo dat ongeag hoe jy voel of wat jy dink kan jy die keuse maak om op sekere manier te reageer. Hier praat ek nie van die instinktiewe keuse van jou hand van die warm plaat afhaal nie (alhoewel jy kan jouself leer om dit nie te doen nie) maar die nugtere besluit om sekere aksies te kies. Die van julle wat ouers is sal hierdie veral verstaan, dit is daardie middae wat jy dood moeg is en niemand mee wil praat nie en jou kind wil net so graag vir jou van hulle dag vertel. Vir die volgende 40 minute. Met niks wat sin maak in die hele gesprek nie. Tog maak jy die keuse om vir jou kind jou aandag te gee. Want jou kind is belangriker as hoe jy voel. Klink maklik ne?

Wat de hoenders het dit met vergifnis uit te waai? Vergifnis is a keuse. Ja, die eerste keer wat jy vergewe mag dit jou gewete wees wat jou aanhits om te vergewe. Daardie stemmetjie wat sê jy moet iemand vergewe as hulle jou seergemaak het per ongeluk. Want dit was per ongeluk. So dis eintlik ok. Dit maak nie jou seer minder nie, maar ons regverdiging van dit was nie bedoel nie maak dit makliker. Party mense sukkel met selfs hierdie. Meer oor onvergewinsgesindheid later.

Hoe vergewe jy dit wat op jou gemik was, of wat voel asof dit op jou gemik was? Want daardie is diep seer. Dit is nie maklik nie, jou gewete is gewoonlik hier die stem wat sê “klap terug, dubbel so hard”. Jy kan dit doen. Niemand gaan jou blameer nie want jy is mos geregverdig uit jou seer. Bullshit! Ja, julle het reg gelees. Daar is geen regverdiging in hierdie wereld om iemand doelbewus seer te maak nie. Ek praat hier van binne persoonlike verhoudings met mense, hetsy vriende, familie, kollegas of wie-ookal. Mense doelbewus seer te maak op persoonlike vlak pluk jy vir jouself groot lat. Hoekom sê ek so?

Seën. Dis hoekom jy moet vergewe. Dis hoekom elke keer as die seer opkom of die vyand jou wil oortuig jy is “geregverdig” om terug te kap jy die keuse moet maak om anders op te tree as hoe jy voel. Anders verloor jy jou seën.

Die seën waarvan ek hier praat is die daaglikse ingryping in ons gemoed deur God. Gewonder hoekom alles verkeerd loop as jy aan die verkeerde kant van die bed opgestaan het? Vir my moes ek leer om op sulke dae net oomblik te vat waar ek kan vrede kry weer in myself. Anders is jy oop vir aanslagte die hele dag. God se vrede bewaar ons gemoedere selfs in die dae wanneer ons emosies helemal mal gaan. Verstaan my mooi, ek het al baie daardie vrede so ver verloor ek kon dit eers week later weer kry. Was seker die meeste chaos wat ek in een week kon hê.

Hierdie seën laat ons die daaglikse goeie om ons raaksien. Wanneer laas het jy terwyl jy erens staan of stap net vir die voëltjies gekyk wat rond hop op soek na kos? Of na die veld wat deur die wind gestreel word? Hierdie goed en honderde ander is so eenvoudig maar dit laat ons die Vader se hand om ons sien.

Wat maak onvergewinsgesindheid aan ons? Twee eenvoudige goed tog is die skade daarvan ontelbaar.

  1. Dit vat ons vrede. Die gevaar lê daarin dat mens raak so paranoïes vir weer seerkry dat ons sukkel om vrede in alle aspekte van ons lewens te ervaar. Dit kan so erg raak dat ons ‘n form van PTSD ontwikkel. Dit tas naderhand jou gesondheid en (erger) jou gesindheid teenoor alles en almal aan.
  2. Dit steel God se seën oor jou lewe. Vergewe mekaar sodat God julle sal vergewe. Ek glo mense sal van my verskil maar wanneer ons elke keer vergewe glo ek vas dat God ons seën daarvoor. Want dan stap ek perfek in tyd met God se hartklop, wat verhoudings met mense is.

So hoe maak ek met die seer? Ek kies om my emosie uit my aksies uit te haal. Ek kies om lief te hê al is ek seergemaak.

Laaste belangrike punt, net omdat jy vergewe het beteken nie jy moet dieselle foute toelaat in jou lewe as jy dit kan voorkom nie. Ek het gesê wees lief vir mekaar, nie onnosel nie. Partykeer moet jy wegstap uit verhoudings, situasies, plekke juis omdat dit is waar jy seer kry. Dis ok om weg te stap. Vergewe en beweeg aan. Moenie dat die seer soos ‘n anker jou terug rem omdat jy nie die ketting kan breek en vergewe nie.