As jy dit nie oor jouself bring nie…

Ek wou eers praat oor hoe maak ons as ons ongeluk ons eie skuld is, in die sin van ons ontneem onsself geluk. Dit sal my volgende post wees. Vandag wil ek praat oor hoe maak ek as dinge skeef loop en ek het geen beheer oor dit gehad nie.

Kyk, hierdie jaar is verseker die jaar waar ek die meeste geleer het, die meeste seer gekry het, hulpeloos gevoel het en ook geluk gevind en verloor het. Mens sal partykeer probeer om in ons eie koppe die goed uit te balanseer. Om die balans te probeer vind sodat ons kan verstaan. Ek het besluit ek doen dit nie verder nie, na baie goeie inspraak van baie wyse man.

Hoekom gaan ek nie meer boekhou nie? Dis maklik om boek te hou. Die groot goed wat fout gaan staan uit soos ‘n geel puisie op jou neus in ons lewens. Soveel so dat dit ons totale fokus steel. Ja, steel. Want die fokus wat ons het word weggesteel op die 1001 goeie goed wat gebeur wat ons begin mis. Ons geluk en seën op die eindelose goeie goed word deur onsself misgekyk.  Die slegte goed is die berge in ons lewens waarteen ons gewoonlik vaskyk. Maar het jy die duisende klein trappies teen die berg gesien van goeie goed wat gebeur? Of het jy soos ek dit mis gekyk met jou klim oor die berg? Makliker om berg te klim as jy die trappies volg.

Die teenkant van jou goeie met slegte te balanseer is jy begin wantroue te kry in jou geluk. Want ongeluk volg mos geluk? Dit is snert. Dit is die tipe snert wat van die vyand af kom om ons eie gedagtes en leefwyses te vergiftig. Leef voluit. Al is dit in tye van ongeluk. Wanneer die goeie tye kom, gryp dit aan met alby hande. Ons is maklik om die engelse spreekwoord te gebruik, “When the going gets tough, the tough get going.” Het ons almal vergeet van die skilpad wat die haas gewen het? Is daar nie meer waarde om ongeag die druk, omstandighede of jou situasie aan te hou om dieselfde hoeveelheid energie in te sit elke dag nie? As jy elke dag jou beste gee, ja.

Die lewe gebeur. Goeie en slegte goed. Onverstaanbare goed. Tye waar ons net in verwondering kan staan oor ons seën. Moenie dat jou fokus bly op die goed wat negatief is nie. Vrede.

Advertisements

Organiseer jou gedagtes

Hierdie post is my sienswyse, maar die onderwerp was voorstel wat ek gekry het. Vang my elke keer uit as ek vra dan kry ek die dieper onderwerpe. Eintlik mal daaroor, want dit laat my regtig dink, oor hoe ek voel en hoe ek reageer op goed in my lewe.

Toe ek hierdie post begin het was die eerste ding wat by my opgekom het die voordele en nadele lysie. Julle ken dit, maak lys van voordele en nadele van die … wat jy wil koop/met wie jy wil uitgaan/waarnatoe jy wil gaan ens ens. Maar dit voel vir my vals. Want op papier kan iets vir ons werk, al die boksies is gemerk, maar het ons werklik gesit en dink oor die onderwerp? Of het ons net boksies geskep om te merk? As mens het ek ‘n gevoel oor goed, partykeer verkeerdelik aangesien ek net mens is. Meestal is die gevoel tog akkuraat. Wat het dit met die orde van ons gedagtes uit te waai, en dit nog saam gevoel oor goed te hê? Ek glo in eerlikheid met ons self oor wat ons eintlik wil hê, oor wat ons eintlik voel. Saam met dit moet ons ook ons eie foute kan raaksien vir werklike foute in ons karakter om aan te werk, of voetfoute wat ons gemaak het. Die eerste een moet jy aan werk, sonder om jouself oor die kole te haal. Die tweede een… Lag dit af, leer jou les en beweeg aan. Jy is nie perfek nie, kom oor dit.

Ek praat onlangs met iemand baie wys wat vir my boodskap gehad het van ‘tyd sal leer’. Maar hoekom sal tyd leer? Het jy al ooit daaroor gedink? Ek het daaroor gedink, en twee goed het by my opgekom. Die eerste is dat met tyd sien jy mense vir wie hulle werklik is. Goed en sleg. Want die lewe sit ons onder druk en dit is wanneer ons ware kleure wys. Hierdie wysheid het ek onlangs geleer. So as iemand weer vir jou sê gee iets tyd verwys hulle hierna.

Die ander ding is dat ons baie keer nie onsself ken nie, nie heeltemal seker is wat ons wil hê nie, waar ons heen oppad is nie ens ens. Daarom moet ons onsself tyd gee sodat ons onderbewussyn en ons normale denkwyses bietjie kan koukus. Na genoeg tyd gaan jou eie gedagtes en motiverings en gevoel hulle self bekend maak. Dit is hoe dit normaalweg werk. Maar wat van as ons die proses kan bespoedig? Is dit werklik moontlik?

Ja dit is moontlik. Vind net jouself. Wees eerlik met jouself, selfs al verander jy van plan. Dit is normaal om anders te voel oor 5 minute van nou. Jy is net mens wat met menslike gedagtes en emosies werk. ‘Trust your gut!’

As jy jouself ken en eerlik is met jouself kan jy begin fokus. Begin om op die kern goed te fokus. Ek het onlangs begin met groot besluite wat nie emosionele dinge is nie. Maar dit is tog ‘n groot besluit wat my en my kinders se lewens kan beïnvloed. Ek het besluit om huis te probeer soek. Aanvanklik dink mens aan ‘n lys van goed wat belangrik is, dan raak jou lys korter as realiteit begin intree oor wat beskikbaar is ens. Dan verander ons lys van behoeftes. Ons begin fokus op die werklike kern goed wat ons mee gelukkig sal wees. Mens maak vrede op die ou einde met dit wat realiteit op daardie oomblik is, jou behoeftes en wense en met die goed wat jy mee kan saamleef.

Hierdie volgorde kan homself baie keer herhaal. Of dit nou huis koop, kar koop, verhoudings, loopbaan of of of. Proses bly redelik dieselfde. Die probleem kom in by as jy na die tyd terugkyk en spyt is.

Maar wat van as jy ‘n kans vat? Wat van as jy net besluit om iets te doen sommer net? Wat as dit die regte besluit was wanneer jy terugkyk? Beteken dit dat daar geen waarde is in om ‘n saak deeglik te deurdink nie?

My opinie is dat ons meeste besluite maak deur daaroor te dink. Dit oefen ons instink vir wanneer ons hierdie spronge maak in geloof. Wat maak ons as ons te veel spronge maak? Ons dobbel, met ons lewens.

Is ek Fake?

Iemand vra my vandag hoe kan ek hierdie blog skryf wat vir hulle lyk asof ek ok is, en dan as ons gesels vertel van my seer. Vertel van die daaglikse goed wat gebeur wat mens breek maar tog hierdie goed skryf wat dit laat blyk ek is ok. Toe wonder ek of “Fake” is. Nie dat iemand dit van my gesê het nie, maar ek glo in myself die vraag vra.

So hierdie post is kort. Want die gedagte van Fake wees het my omgekrap. Ek besef dat mense my sien, my posts lees en dat dit die persepsie skep dat ek reg is. Want sien, ek is. Ek is ok. Maar mense is nie altyd dieselle nie. Daar gebeur goed wat jou op jou sterkste tye wil laat inmekaarsak. Dit is maar net hoe die lewe is. My pragtige kinders het vandag vorentoe geleun in die kar en opgekyk en vir die hemel, gewaai dat hulle ma moet kyk na die kar wat ons ry. Hoe hanteer mens hierdie enigsins anders as met trane?

Die punt is, ek dink ons as mense is gemaak soos kraakbene, altyd sterk, altyd breekbaar, vinnig om te herstel maar altyd gevoelig vir die goed wat ons van die kant af helemal van stryk af kan bring.

Ek is mens. Ek het seer. Ek genees. Ek breek weer. Ek lag. Ek vind vreugde. Ek huil. Ek bly op my knieë. Ek glo in waarhede wat my verstand te bowe gaan. Ek is mens.

Hierdie is gemik op jou

Hierdie post is gemik op mense. Wie sou dit kon raai? Hoekom dit probeer verduidelik? Want mense hanteer mekaar slegter as kwaai honde teenoor vriendelike katte.

Die laaste tyd besef ek net al meer my eie menslikheid, my eie foute, my eie wense en beste van alles my eie waarde.

Beteken dit ek is vreeslik oulik en perfek, met net die beste moo tlike selfbeeld en en en? Alles behalwe. Dit beteken net ek het vrede met wie ek is. Ek het vrede met die lewe wat ek wil hê. Ek het vrede met my eie behoeftes. Want wie ek is, my waarde en behoeftes is perfek. In God se oë is ek perfek, ongeag my foute of die bordjies wat mense om my nek wil hang.

Dit beteken my waarde word nie bepaal deur mense nie. Die regte waarheid hiervan is ek bepaal nie eens my eie waarde as mens nie. God bepaal my waarde. Daarom kan ek dinge wat met my, om my of teenoor my gebeur hanteer. Daarom beteken hoe mense my hanteer of met my is, niks.

Dit beteken nie ek kan mense aflag nie. Dit beteken dat wanneer ek seer gemaak word kan ek vinniger verby die emosionele ding kom van,”hoe kon hy/sy (enige iets) doen teenoor my?”. Dit maak dalk nie die seer minder nie, maar dit verkort die periodes van seer vir my.

Die lekker ding van jou waarde in God se hande plaas is die aanvaarding van jouself. Dit beteken jy bou saam God aan die kunswerk wat jy is, ongeag hoe jy vandag lyk. Jy kan die goeie tye meer geniet want jy vrees nie meer die slegte tye nie.

Ek hoop jy weet waar jou waarde vandaan kom. Ek hoop jy kyk more oggend in die spieël deur die oë van die Een wat jou prys bepaal het. Want Hy het dit betaal. Vrede.

Maak vrede met jou foute. Deel 2.

Om vinnig net almal weer op die selfde bladsy te bring, in deel 1 het ek gesels oor hart te wees op jouself oor jou eie foute wat jy raak sien. Hierdie post is oor wat maak jy as jy nie jou eie foute raaksien nie. Vir my is dit erger want jy kan net verander wat jy sien en self erken. Kom ons begin.

Wanneer jy jou eie foute so blatant mis gaan ek eerstens moet vra, het jy ware vriende? Sien, as jy onbewus is van jou foute kan jy nie intern gaan soek vir iets wat jy nie eens weet daar is nie. Maar vriende? Hulle behoort jou te kan help. Meeste van my lesse wat ek moes leer oor myself het gebeur weens my vriende kring op hoërskool wat tot vandag toe my beste maats is. My broers. Was dit altyd maklik? Nee, sien my vriende glo in reguit met mekaar wees. Ons haal mekaar as ‘n reel uit oor goed, al is dit net sê goed. So slyp ons mekaar. My vriende het my in die gewoonte gebring om selfondersoek te doen. Om myself te vra, hoekom is jy so, waarom laat hierdie situasie jou so reageer?

Wanneer jy hierdie tipe vrae begin vra en in die gewoonte kom om dit an te hou vra begin jy te besef dat jy het foute. Bagasie. Seer wat moet genees. Sagte plekke wat jy moet beskerm. Snellers wat getrek kan word en dan skiet jy sonder om te kyk, figuurlik natuurlik. Na ‘n tyd gaan jy agterkom maar daar is net nog goed om deur te werk. Ou goed kom terug. Frustrerend eintlik. Tot jy iets baie besonders besef. JY IS’N MENS!

Wat van familie en jou foute? Mens sal tog dink dat hulle as die mense naaste aan jou, jou die meeste sal op jou foute wys? Twak. Nee, rerig, waar in jou lewe sal jy jouself sulke nonsens laat glo. Familie sal jou op jou foute wys as dit vir hulle ook sigbaar is. Die goeie probleem is hierdie is mense wat al oor jare net so gewoond geraak het soos jy aan jou foute. Hulle mag dit moontlik net so min raaksien soos jyself. Met een uitsondering wat eintlik nie veel help nie in my opinie. Daardie tyd na skool en voor jy helemal op jou eie voete staan is seker die laaste tyd wat ouers het om jou raad en advies te gee as ouers. Daarna, hang dit af hoeveel hulle jou vriende ook word. Dan is inspraak makliker. Ek is geseend met uitstekende ouer mans in my lewe wat ek na luister as hulle vir my sê ek moet na iets kyk, al wys ek dit nie altyd nie. Het jy sulke mense in jou lewe? Ek praat nie van die persoon wat jou male voorstel nie. Ek praat van die persone met wie jy ‘n persoonlike band mee smee.

Werksvriende… Hierdie is seker baie snaaks vir sommige, maar skinderstories vertel jou meer van hoe mense jou sien as amper enige iets anders in die werksplek. So dis baie belangrik om jouself te wees. Sodat jy kan begin uitken wat van die goed wat van jou gesê word is jou manier van optree wat verdraai opgeneem word. Ek praat nie van die gemiddelde skinderstories nie, of selfs die eerste storie nie. Ek praat van dat jy boekhou van mense wat dalk noem jy lyk asof jy nie lus is nie, of te gretig is om te help (my voorbeelde suig met hierdie vanaand, verskoning) want dit gaan jou help om te ontwikkel. Dit gaan jou help om dieper na jouself te kyk. En dit, is juis die hele punt.

Begin vandag en dink oor jouself. Dink oor waar mense gesê het jy het hulle seer gemak. Situasies waar mense verbaasde uitdrukkings op hulle gesigte gehad het voor hulle omgedraai het. Dink oor stelling wat jy oor jouself maak outomaties. Is dit nog waar? Is dit nog jy? Wil jy hê dit moet nog jy wees?

Ek hou duim vas dat jou foute jou nie sal bind om jou lewe voluit te leef nie. Dat mense se aanvaarding van jou as mens jou nie sal laat huiwer in jou pad nie. Wees jouself. Verbeter jouself. Moet nooit jouself afknou nie. Die wereld gaan dit genoeg probeer doen. Vrede.

Maak vrede met jou foute. Deel 1

Ek dink daar is baie mense wat wonder in hulleself, wat dag in en dag uit hulleself roskam. Dit is mos maklik om vir jouself vies te raak oor jou eie foute. Of erger, blindelings deur die lewe te gaan sonder om jou eie foute raak te sien. In my hart dink ek dit is meer hartseer om blind te wees vir jou eie foute. Jy is blind, en ontneem jouself eintlik maar jou eie groei. Hart te wees op jouself is op sy eie manier sleg, want jy breek jou eie menswees af.

So wat is die foute wat ek van praat? Jou sproet op jou oor wat jy jou ma al van tiener tyd af smeek om te laat afsny? Jou gewig? Jou nuwejaarsvoorneme wat alweer net tot die derde Januarie gehou het? Niks van dit nie. Oftewel, nie iets so eenvoudig nie.

Kom ons begin oor die foute waarop ons so hart is op onsself. Hierdie is die foute wat jy weet jy het. As jy nie met oogklappe na jouself kyk nie het jy al die insig om baie van jou foute tekan sien om aan hulle te werk. Hierdie is foute soos lui wees, vinnig wees om kwaad te raak, te veel tegemoetkomend te wees ensovoorts. Dit is die foute waar net na jy dit gedoen het is jy gewoonlik vies vir jouself. Dan voel jy skuldig. Dan belowe jy jouself dit sal nooit weer gebeur nie. Dan voor jy jou oë uitvee het dit weer gebeur, sommer twee keer.

As jy kyk na die volgorde hierbo sal jy sien jy hanteer jouself as ‘n stoute hondjie. Jy raas met jouself, maak mooi jammersê ogies vir jouself en dan kou jy weer aan jou baas se gunsteling stoffels. Hoekom hanteer jy jouself as enige iets anders as ‘n volwassene? Of is jy gemaklik daarmee om jouself soos ‘n onskuldige kind te hanteer, een wat geen volwasse besluit kan maak nie? Hemel weet ek hoop nie dit is hoe ons na onsself kyk nie. Want dit sou beteken ons het geen beheer oor ons eie lewenspad nie, geen besluit wat ons neem kan enige verandering in ons lewens bring nie. Dit is hartseer.

Ek glo dat elkeen van ons het menigte foute. Ons is immers mense. Met dit saam het ek ook besef daar waar ons die grootste foute het is waar ons beste sterk punte kan vandaan kom. Ons moet net ons koppe op die regte plek kry. Wat is die regte plek?

Hier is my stellings vir hoe ons ons koppe moet begin instel om nie meer so hart op onsself te wees nie:

  1. Besef jou lewe is ‘n pad en nie ‘n bestemming nie.
    Dit beteken dat elke dag ‘n nuwe tree is. Jy is nie gebore perfek nie al het jou ma so gedink. Jy kan daagliks aan jouself werk en verbeter.
  2. Jou foute maak jou nie die satan nie.
    Ek hoor so gereeld mense wat dink hulle is ‘slegte’ mense oor hulle foute, hulle verlede of iets wat hulle aan iemand gedoen het. Dit is twak. Ja, jy het dalk iemand seer gemaak, dit was verkeerd. Kom oor dit al vergewe die ander persoon jou nie. Sê jammer en beweeg aan. Jy is mens. Jy gaan foute maak. Dit maak jou nie Hitler nie.
  3. Foute is in jou karakter sodat jy daaraan kan werk en verbeter.
    Jou geneigdheid om jou humeur te verloor, ongeduldig te wees of te lag as iemand seer gekry het is alles normaal. Is dit ok om dit net te aanvaar as dit is hoe jy is as jy vir jouself gesê het dit is ‘n fout van jou? Nee. Dit is hoekom mens aan jou foute werk.
  4. As jy nie dink dit is ‘n fout nie, dan is dit nie een vir jou nie.
    Met dit probeer ek te sê dat as jy ongeduldig is met mense wat nie tot die punt kan kom nie byvoorbeeld, en voel dit is goeie punt dat jy so is, is dit ok. Jy mag so dink. Of jy reg is of verkeerd is hang net van jou af en God. Jy fokus dalk eerder op ander iets wat jy doen wat jy vir jouself uitgewys het as fout.
  5. Mense se identifikasie van jou foute kan jy maar ignoreer.
    Die kennis wat vir jou sê jy is te kwaai met kollegas kan jy maar ignoreer. Want die persoon ken jou nie, ken nie die omstandighede nie en veroordeel jou dalk weens een insident in plaas van met jou ‘n pad te gestap het. AS hulle iets uitwys wat jy reeds aan werk is dit dalk groter probleem as wat jy besef het. Gebruik jou eie gesonde verstand.
  • JY is net mens. JY is waar jy is, op die plek waar jy is vir ‘n rede. JY is die moeite werd.
  • Moet nie dat daar in jou oor gefluister word en goed oor jou gespreek word wat jy nie hoef aan te trek nie. Moet ook nie van jouself verwag om perfek te wees nie, jy gaan jouself net elke keer teleurstel en ‘n bose siklus begin wat nooit sal eindig nie.
  • Ek gaan die post hier stop, en eerder die res in deel 2 mee aangaan. Vrede.
  • Nuwe Begin, Nuwe Boek

    Ek is baie opgewonde oor hierdie post. Sien ek weet ek het een van my stokperdjies totaal afgeskeep. Skryf. Soos met enige stokperdjie wil mens dit net doen as mens geinspireerd voel om dit te doen. Onlangs was dit nie die geval nie. Toe kom ek af op prent wat een van die digitale kunstenaars wat ek ken geteken het en dit het my gegryp.

    Ek is mal oor ‘fantasy’ en ‘sci-fi’ engelse boeke. Inteendeel buiten vir enkele uitsonderings is dit al wat ek lees. Die boek gaan ek onder my eie naam publiseer. Die hoofkarakter is geinspireer deur my beste vriend van baie jare. So hoekom hierdie post? Hierso is dit:

    1. Ek wil myself motiveer deur een keer ‘n maand minstens my woordtelling op die boek te kan post. Die vordering gaan dalk iemand daar buite inspireer om self te begin skryf. Wie weet?
    2. My plan is om teen Desember die boek op Amazon en al die groot aanlyn verkopers te hê. Die gedrukte weergawe sal hopelik betyds wees sodat ek myself kan bederf met ‘n kopie vir kersfees.
    3. Ek beplan dat die boek so 45,000 woorde sal hê. Dit beteken omtrent 180 bladsye. Hang af hoe groot die print boek gaan wees ens.

    Soos met enige projek moet daar ook mylpale wees. Myne is as volg:

    1. Sodra eerste 10,000 woorde geskryf is gaan ek die naam bekend maak.
    2. Sodra die boek op 30,000 woorde staan sal ek die voorblad post en ook onder “Fiksie Verhale” hierbo
    3. As die boek klaar is en ek hom deurstuur vir proeflees sal ek die boek oopmaak vir “pre-order” met bekendstelling 2 weke later. As iemand op die voorblad van die boek kliek sal julle na een van die aanlyn verkopers geneem word om my te ondersteun.

    Ek is opgewonde om weer te skryf. Dankie byvoorbaat vir almal se ondersteuning. Vrede.