Gebruikte mense, ons moet bly hoop

Elke keer as ek begin met nog ‘n post besef ek net weereens hoeveel hierdie vir myself help. Vir die eenvoudige rede dit bring baie keer die goed wat in en om my gebeur terug in perspektief. Ek is geneig om eers lank na iets gebeur het my emosies om ‘n situasie te kan werp en dan van daar af my kop skoon te kry. Ek besef gewoonlik te laat hoeveel goed en sleg ‘n situasie was. Dan leer ek my les, meestal, beweeg aan en probeer beter te wees, besluite te maak en meer verseker te leef in wie ek is.

Maar hoe gemaak as jy besef dat jy om die bos gelei is? Hoe gemaak as die teendeel gebeur, dat jy iets vir iemand beteken het sonder dat jy dit eens besef? Dit bring tweestryd in my gemoed wanneer die goed op dieselfde tyd gebeur.

Aan die negatiewe kant werk mens eers deur die teleurstelling, die verwagtinge wat geskep en geskeur is. Dalk was dit verwagtinge wat jy vir jouself geskep het. Iemand het jou dalk eksplisiet sekere goed belowe en nooit dit gedoen nie. Omstandighede het dalk verander wat jou gebruik laat voel, hetsy deur mense of deur die breë wereld. Dit mak seer. Dit los my minder lus om weer my hand uit te reik na mense om hulle te help. Dit maak dat ek met redelike afsku begin kyk na sekere mense. Ek begin myself te blameer en oor die vingers te tik vir myself so oop maak vir pakslae. Maar wat gedoen is, is gedoen. Wat gebruik is, is weg.

Ek probeer dan myself af te skud, reg te ruk en to fokus op die goeie goed. Waarvan daar meer is as wat ons besef. Daar is mense wat werklik waardeer wat mens doen vir hulle. Partykeer is selfs die geringste iets meer werd vir iemand as wat ons besef. Ek is die laaste tyd vreeslik getref oor hoe gesprekke van jare terug mense gehelp het om te kom waar hulle is vandag. Net so, moet ek ook eer gee aan mense wat oor die jare heen vir my gehelp het om te kom waar ek vandag is.

Ek is die laaste tyd getref deur soveel hartseer wat gebeur in ons wereld. Die naweek is daar familie wat getref is deur ‘n ouer paar wat in motor ongeluk oorlede is. Die seun is in my alma-mater en dit bring terug my tyd op skool toe my aanneem-pa oorlede is. Die idee van alby ouers wat net ewe skielik weg is, is tragedies. Dit bring herrinneringe terug van destyds. Mentors wat in daardie swaar tye in my lewe getree het, gehelp het en raad gegee het. Boeke geleen het wat ek kon lees om net vir ‘n tydjie te kon ontvlug. Sport afrigters wat my gedruk het om myself te verbeter. Tyd opge-offer het en ingebou het in my. Voel hierdie mense gebruik vandag? Of sit hulle met ‘n glimlag en dink aan hoe hulle kon help? Dalk dink hulle glad nie eens aan so lank terug nie.

Sien, hier is wat my hoop gee. God het nog niemand oor my pad gestuur wat nie op my pad moes kom nie. Ja, party mense het aansienlik meer geneem as gegee, meer verwoes as wat hulle gebou het. Hy het, en bly elke dag, vir my sorg. Dalk was daar waar ek voel ek gebruik was binne Sy plan sodat ek kon gee wat iemand nodig gehad het. As ek sê God is die een wat voorsien kan ek tog nie kwaad wees oor dit wat ek gee nie. Want dit kom nie van my af nie. Dit voel dalk nie altyd op die oomblik so as jy terugkyk nie. Hetsy dit verhoudings was of geld, tyd of wat jy ookal gegee het. Die punt is, dit was nie joune nie. Dit wat jy het is tydelik. Bewaar dit soos die goeie dienskneg, maar as die Meester sê gee, moet nie jou hand toemaak nie.

Die laaste tyd is daar regtig so baie hartseer om ons, verhoudinge wat verbreek word, dood, siektes en ekonomiese druk op soveel huise. Dit voel dalk asof dit wat jy gister gedoen het jou vandag kom byt. Dit mag dalk werklik so wees. Vergewe, sodat jy kan vry wees. Vergeet, sodat jy nie verbitterd word nie. Lewe met die geluk wat op jou pad kom en kyk op. Hy sal jou nie faal nie.

Advertisements

Vanaand sny ek af

Vanaand moet ek hard werk om my innerlike vrede te bewaar.

Ek moet vanaand myself in toom hou, om die woede van onregmatige behandeling te kan demp en hanteer. My ore vryf en “woosa” oor en oor sê omtrent.

In die kar toe ek my nuutste playlist luister (getiteld: “Angry Time to F### stuff up”) en liedjie na liedjie van Nickelback, Creed, Evanescence, Linkin Park, Within Temptation en nog paar ander luister voel ek hoe ek deurbraak maak.

Dit gaan nie net oor vergewe nie, dit het ek reeds gedoen, dit gaan oor iets wat ek hard probeer om myself af te leer. Dit is om af te sny. My hoop op goeie behandeling vanaf mense vir wie ek goed was. Want die hoop maak nie sin nie, en ek is immers die persoon wat nog altyd aangedring het om baie grasie vir mense te hê tot hulle doelbewus probeer seer maak.

So vanaand sny ek af. Ek is klaar. My energie het verseker beter plekke om ‘n tuiste te vind. Ek het goeie mense in my lewe, soveel spesiale mense vir wie ek ongelooflik lief is, drie kosbare kinders vir wie ek my lewe sal gee.

My deurbraak vanaand is dit: afsny is reg as jy die onherwinbare kwaad uitsny. Die boer gaan tog nie en plant ge-oeste stronke en hoop op lande vol mielies nie.

Vir elkeen hoop ek geluk en vrede, selfs julle wat vrot en vol drama is.

Ek hoop en gaan aanhou probeer om te kan beteken vir ander soveel soos wat ek al goeie inspraak gehad het. Dit sal my fokus wees. En as ek weer om die bos gelei moet word… Wel, mens snoei partymaal maar meer as een maal die boom voor hy gesond is.

Partykeer is dinge net maklik

Hierdie laaste tyd wag ek vir die volgende krisis, rugstekery, probleem of een of ander nood om my te oorval. Meerendeels want dit is hoe hierdie jaar met tye al gevoel het. Ek dink nie eens iemand sal my kwalik neem met dit nie. In dieselfde asem moet ek ook bieg en sê ek sit baie terug en wag vir die volgende wonderwerk, ware vriend, goeie vriendin, hernuwing en vreugde om my te oorweldig. Want dit het ook hierdie jaar met my gebeur.

Ek sit en gesels met ‘n kollega die ander dag en sy vertel my hoe haar liefdeslewe gaan. Ek moet bieg dit het met tye geklink soos persoonlike ervarings, net vir iemand anders om in te klim in ons gesprek met soortgelyke ervarings. Naderhand was ek net ‘n toeskouer in die gesprek. Wat my getref het is hoe soortgelyk hulle ervarings was. Dit bring my tot die besef dat as dit wat jou moet vrede en vreugde bring dit nie doen nie, is dit nie bedoel vir jou nie. #praatuitervaring #partymenseisnetslegvirjou

Ek gesels met vriende wat deur rowwe tyd gaan met werk en dit breek my. Nie omdat hulle deur moeilike tye gaan nie maar omdat ek niks vir hulle kan doen nie. Dan besef ek net weer dat elkeen van ons deur tye van krisis gaan. Dit is niks lekker nie, dit bring partykeer onvergelykbare pyn. Maar daar is ook redes vir dit. Al is die rede om ons sterker te maak is dit goed genoeg.

Ek is onlangs baie bevoorreg om iemand in my lewe te hê wat my help om jare se trauma en slegte emosionele gewoontes van ontslae te raak. Maklik. Hoe God my help om deur hierdie persoon se aanvaarding myself oop te maak en genees te word van gewoontes wat ek van klein kind tyd af gehad het. Sien, ek het geleer om emosioneel “af” te skakel. Die wat die woord “Psigopaat” in neon sien kan ontspan. Nie dieselle onderwerp nie. Ek het geleer dat die ware merk van jou krag oftewel sterkte as mens lê nie in hoe hard jy is of hoe hoog die mure om jou hart is nie. Die werklike mate om jou krag te meet is hoe bereidwillig is jy om seer te kry? Het jy die bravado om jouself oop te stel vir seerkry? Sal jy die kans waag op mense?

Vandag voel ek meer vrede as wat ek al ooit kon dink. Ek ken nogsteeds mense wat vir my seer veroorsaak, al is dit net die gevoel van ‘n kopspeld se prik. Maar ek het ook geleer om die werklike goeie mense in my lewe net meer en dieper lief te hê. Om die wat werklik opreg is te vertrou. Om oop te wees en nie vir een oomblik enige spanning weens my verhoudings met mense te ervaar nie. Want al kry ek seer, leef ek daagliks in meer vreugde as wat die pyn kan veroorsaak. Pyn genees, stadig, met wroeging en somtyds met wyn. Maar dit genees. Lisma het my as man gewys hoe God wil hê ek moet wees, sodat ons kinders sal grootword soos God dit bedoel het. Ek mis haar elke dag. Maar elke keer as dinge vir my swaar raak is daar iets wat gebeur wat my wys God het deur haar met my en ons kinders gewerk. Dan word dit makliker. Hierdie is ‘n nimmereindigende proses van genesing, van self groei, van dieper in God se hart in te beweeg, van ‘n verskil maak in mense se lewens. Want ek het ‘n vrou gehad wat die pad vir my gewys het.